Nuut Verkose Verkenners President boodskap 2024

Goeiedag Verkenners,

Eerstens wil ek die Yzerspruit Verkenners bedank vir hulle reëlings rondom die kongres. Julle sal in die vervolg net vir die tannies wat die opskep werk verrig het, kleiner lepels moet gee. Daar was bitter min manne wat hulle kos kon baasraak.

As ek eerlik moet wees, weet ek nie hoekom die leisels weer in my hande beland het nie. Ek wil die afgevaardigdes na die kongres bedank vir die vertroue in my gestel. Dit gesê, wil ek my teleurstelling met die bywoning van die kongres uitspreek. Dit wys vir my duidelik dat daar iets skort met hierdie beweging waarvoor ons almal so lief is. (Of behoort te wees).

Met ’n vorige ampstermyn het ek my beywer om die Verkenners te kry om vriendskapsbande wyer as posverband te smee. Dit help dat ons nouer saamwerk, minder baklei en mekaar sal ondersteun. Jy sê tog immers baie moeiliker vir ’n vriend “nee” as vir net nog ’n ander lid in ’n ander pos.
Op hierdie noot wil ek dus weer al die Verkenners uitnooi om die jaarlikse Majuba werksnaweek by te woon. As ons sy aan sy werk en saam sweet terwille van ’n volksaak, word daar vriendskapsbande gebou. Die saam brood breek om ’n vuur na ’n lang dag se werk, help natuurlik ook. Watter beter plek om dit in elk geval te doen as op ons eie volksgrond?

As ons hard gewerk het op ons eie plaas, moet ons dan ook moeite doen om die fees self by te woon. Hier is weer geleentheid om saam te kuier en by die nuut gevonde vriende van die werksdag se vure te ontspan en gesels en bande verder te smee.

So klompie jare gelede was sekere datums aan sekere poste toegeken, met die versoek dat ander poste nie iets op dieselfde dag sal reȇl nie, maar dat die poste eerder moeite sal doen om mekaar te ondersteun op hierdie datums. So was Oktober Krugerdag te Paardekraal, Mei was Republiekdag op Groblersdal en September het ons saam met die Klerksdorpers gekampeer.

My versoek is dat ons hierdie tradisie sal voorsit. Poste kan my gerus kontak sodat ’n datum vir ’n spesifieke pos gereserveer kan word. Groblersdal en Klerksdorp het ’n wyle gelede hulle datums benut, dus kan enige pos die datum oorvat, tensy ek ’n onderneming van die poste kry dat hulle dit weer gaan afstof. Met diepe dankbaarheid moet ek sê dat Paardekraal steeds Krugerfees vier.

Kom ons word weer vriende wat almal in dieselfde rigting trek.

“Daar’s ’n volk te leer om homself te eer, te bou…”

Alwyn de Klerk